Hoe HuisHulp werk
Log jou oproep aanlyn
Teken in op jou HuisHulp-paneel en beskryf die probleem. Kies die ambag — loodgieter, elektrisiën, handyman, slotmaker of glaswerker — en of dit 'n noodgeval is.
Ons keur en wys toe
HuisHulp stuur die oproep aan 'n gekeurde kontrakteur in jou area. Sodra hy bevestig, stuur ons julle mekaar se besonderhede per WhatsApp.
Inspeksie en eerste uur gratis
Die kontrakteur inspekteer die probleem. Die uitroepfooi en die eerste uur se arbeid is by jou pakket ingesluit — HuisHulp betaal die kontrakteur direk.
Kwotasie vir verdere werk
As die werk langer as 'n uur vat of parte benodig, gee die kontrakteur jou 'n kwotasie. Jy besluit of hy voortgaan, en betaal die ekstras direk aan die kontrakteur (Premium-kliënte se R1 000-krediet word eerste aangewend).
Wat tel as 'n noodgeval?
'n Noodgeval is iets wat skade aan jou eiendom veroorsaak of jou veiligheid bedreig as dit nie dadelik aandag kry nie. Byvoorbeeld:
- Loodgieter: gebarste pyp of geiser, water wat instroom, riool wat terugstoot
- Elektrisiën: kragonderbreking by die verdeelbord, vonke, brandreuk
- Slotmaker: uitgesluit by jou huis, slot gebreek ná 'n inbraak
- Glaswerker: gebreekte ruit wat toegang tot jou huis gee
'n Drupkraan of los deurhandvatsel is nie 'n noodgeval nie — dit is 'n standaardoproep. Let wel: 'n oproep wat as noodgeval gelog word, tel steeds as een van jou pakket se oproepe.
Die belangrike reëls (geen fynskrif-verrassings nie)
- Een besoek = een oproep. Verskeie herstelwerke deur dieselfde ambag tydens dieselfde besoek tel as een oproep.
- Parte en materiaal is vir jou rekening. Die pakket dek die uitroep en arbeid, nie parte nie (behalwe Premium se krediet).
- Wagperiode van 30 dae vir nuwe kliënte voordat die eerste oproep gelog kan word.
- Oproepe dra nie oor nie — maar as jy 'n volle jaar sonder 'n oproep voltooi, kry jy 1 bonusoproep in jou nuwe jaar as dankie.
- Oproepe op is? Jy kan steeds deur HuisHulp 'n gekeurde kontrakteur kry teen ons lede-uitroepfooi.
- Slegs binne jou erfgrens. Munisipale toevoer, hooflyne en meters buite die grens is die munisipaliteit se verantwoordelikheid.